Van den Berg familie - Stamvaders in Suid Afrika
Uit die argiewe blyk dit asof ten minste 5 van den Berg mans in die Kaap aangekom het.
Jacobus VAN DEN BERG (oorspronklik Van Bergen) is op 8 Februarie 1671 in Breskens, Zeeland gedoop. Hy trou op 8 Oktober 1700 met Jacomina CARTENIERS van Oudenaarde in Vlaandre en verwek sewe kinders, 2 seuns en 5 dogters by haar. Hy is die stamvader van die meerderheid draers van hierdie van in Suid-Afrika.
Tweedens word Jacobus Johannes VAN DEN BERG gebore in Utrecht, Nederland op 15 Februarie 1745 genoem. Hy het as hoofchirurg op die skip De Jonge Samuel in 1775 in die Kaap aangekom. Die volgende jaar het hy met Elizabeth Kamp getrou. By haar het hy nege kinders verwek. Ná haar dood is hy in 1798 met Maria Verwey getroud by wie hy vyf kinders verwek het. Dit word ook genoem dat hy 'n welgestelde handelaar en uitvoerder was.
Volgende kom Dirk Jans VAN DEN BERG van Bremen wat op 20 November 1729 met Anna Heylon van Mauritius trou. Sy was die weduwee van Jacobus VAN LAAR. Hulle het twee kinders een seun en een dogter gehad.
Dan weet ons van Willem VAN DEN BERG van Wageningen wat op 31 Oktober 1784 met Sara WAGENAAR trou. Klaarblyklik het hulle slegs drie dogters gehad.
Daar is ook rekord van Matthys (Matthias) VAN DEN BERG van Munster wat op 4 Maart 1798 met Geertruida BRITZ getroud is. Hulle het vier seuns en een dogter gehad.
Verskeie ander van den Bergs word ook genoem in boeke maar is klaarblyklik nie verwant aan bogenoemde persone nie. Lees hier meer oor hulle.