Die Visagie en Yzelle Familie

Die dokument hieronder is saamgestel deur M.V. (Tienie) en Elsie Visagie in 1973 te Pretoria.

HERK0MS van die Visagie en Yzelle-families in Suid-Afrika soos verstrek in die "Geslagsregister van die ou Kaapse Families", Deel III van C.C. de Villiers soos hersien.

Die Visagie-familie is een van Suid-Afrika se oudste families, indien nie die heel oudste familie nie. Dit wil sê onder dié wat nog nakomelinge in Suid-Afrika het. Die stamvader is Pieter Visagie wat voor 1657 hier aangekom het vanaf Antwerpen.

Hy is een van die eerste nege persone wat in 1657 vryburgers geword het - d.w.s. uit kompanjiediens getree en gaan boer het. Wat in die tyd baie algemeen gebeur het, is dat die Verenigde Oos-Indiese Companjie (V.O.C.) van Nederland 'n groot aantrekking vir baie lande soos Duitsland, Frankryk, ens. was. Baie uit dié lande het na Nederland gegaan om in diens van die Companjie te tree.

Pieter Visagie was hoogs waarskynlik 'n Fransman (die van Visagie word nog in Frankryk vandag teëgekom) wat na Nederland gegaan het, en in Antwerpen enige jare as amptenaar van die V.0.C. diens gedoen het, en toe vrywilligers gevra is om die nuwe verversingspos aan die Kaap te stig, het hy ingewillig en na die Kaap saamgegaan. Ons weet egter nie of hy onder die eerste mense was nie.

Dis korrek om te sê hy het voor 1657 hier arriveer. Pieter Visagie is op 21 Junie, 1671 met Catharina Kiens (of Kyns) van die plek Ter Veere getroud. Pieter het in 1697 die reg verkry om sy vee te laat wei ten ooste van die Tygerberg (d.w.s. naby huidige Parow), rnaar hy is kort daarna oorlede.

Daar was blykbaar net twee kinders vir hulle gebore nl. Guilliam in 1674 (hy is getroud met 'n nooi Prinsloo en het 'n groot nageslag gehad) en Izaak in 1679 (moontlik nie getroud nie - niks van hom tot dusver bekend nie). Pieter se vrou het op 10 April, 1682 weer getrou met ene Wilhelm Meyn afkomstig van Essen.

Die stamvader van die Yzelle-familie in Suid-Afrika is Johan Christiaan Iseli of Yseli of Yzelle (dis vroeër verskillend gespel, maar hulle was toe nog nie so noukeurig nie) afkomstig van die plek Hasle geleë in die provinsie (kanton) Bern in Switzerland. Hy is getroud met Johanna Dorothea van Dalen op 20 September, 1762, en is oorlede op 18 Mei, 1807.

Nota - Inligting met dank verkry vanaf Louis Visagie - Somerset Wes

Pieter Visagie het reeds in 1655 in Kaapstad ge-arriveer. Dr Jan C Visagie het ‘n artikel hieroor geskryf wat ek vir u kan aanstuur as dit belangrik is. Dit maak Visagie die oudste van tov Afrikaners in Suid-Afrika; vorige immigrante het weer die land verlaat. Voorheen was beweer Cloete is die oudste van, maar nuwe registers en navorsing van Dr Visagie in Antwerpen, vertel die storie anders. Het die doopregisters nagegaan in Antwerpen.

Kliek hier vir navorsing gedoen deur Louis Visagie. 

Stamregister van Visagie Familie

© Copyright van den Berg Family History 2018 | All Rights Reserved | Website Design and Search Engine Optimisation (SEO) by ZAWebs | Web Hosting by ZAWebHosts | Die Visagie en Yzelle Familie Resources