Meer oor Myself

Ek (Samuel van den Berg) is op 12 Maart 1957 by 'n sendingstasie genaamd Elim in die Louis Trichardt distrik gebore. 

Die naam Samuel kom van my oumagrootjie, Theodora Liversage se oupa af. Hy was Samuel Liversage 'n 1820 Setlaar en leier van 'n groep setlaars wat aanboord van die skip "John" in Suid Afrika aangekom het. 

Samuel Liversage land in Tafelbaai op 19 April 1820 as die leier van die Staffordshire groep setlaars. Sy ouderdom is aangegee as 30 jaar. 

Sy vrou was aangegee as Ann 35 jaar oud en volgens rekords is sy tydens die reis oorlede. Hulle kinders is aangegee as Elizabeth 8, Ann 6 and Cathrine 3. Samuel het na Ann se dood met die kinderoppasser Harriet Bond in 1820 getrou. 

My pa is ook 'n Samuel van den Berg en my ma is Aletta Sophia Visagie. 

In 1978 is ek getroud met Esther Jacoba du Preez dogter van Jacob Wouter Du Preez en Susanna Johanna Wentzel. 

My dogter Suzaan Alicia se name is saamgestel van die van haar twee oumas. My ma se grootouers was van die boere wat na die Anglo Boereoorlog na Argentinie toe getrek het aangesien hulle nie onder die Britse Vlag wou bly nie. Sy is toe in Comodoro Rivadavia gebore. Toe my oupa haar geboorte in Argentinie registreer is haar naam as Alicia in plaas van Aletta aangeteken. Vandaar die naam Alicia vir my dogter. Lees meer oor die "Boere van Pategonie." en my Visagie voorgeslagte elders op die webblad.

Onder is 'n foto van drie geslagte Samuel van den Berg. 

Van links na regs agter Sam (myself), my pa Sampie, neef Sampie of Vaal Samp, Oupa Sam, voor links neef Sampie (Samuel Liversage), en regs Sam. Was nogal 'n probleem met familie saamtrekke! Ongelukkig is daar uit hierdie groep net een Samuel van den Berg wat die naam in die volgende generasie voortsit.

My belangstelling in genealogie is hoofsaaklik gekonsentreer rondom bogenoemde families alhoewel ek ook graag meer sal wil weet van die families van my oumas, Johanna Petronella Jansen van Vuuren, en Susanna Maria Crous.

As jy nog meer wil weet email my gerus.

© Copyright van den Berg Family History 2018 | All Rights Reserved | Website Design and Search Engine Optimisation (SEO) by ZAWebs | Web Hosting by ZAWebHosts | Meer oor Myself Resources