Oorsprong van die Van den Berg Familie

Berg is die naam van ‘n graafskap in die hoek van Gelderland wat die gebied van die teenswoordige Heerenberg insluit, sowel as ‘n gebied wat tans in Duitsland geleë is en waaraan ook Emmerik behoort. Dit het waarskynlik ontstaan deur onderverdeling van die Graafskap Zutphen; die oudste bekende besitter daarvan was Constantinus de Monti (of van den Berg), wat in die jaar 1064 genoem word.

Die grawe was oorspronklik selfstandig en het slegs die Keiser as hul leenheer erken. Maar omdat die gebied geleë was tussen die gebiede van die grotere Gelre, moes hulle langsamerhand hierdie hertog as hul leenheer erken. Hulle het egter ‘n sekere selfstandigheid bewaar onder die sogenaamde “Baanderheeren van Gelre”.

Dit is dus heelwaarskynlik dat alle Van den Bergs hulle oorsprong in hierdie agterste deel van Gelderland gehad het.

Van die vroeëre geskiedenis van die geslag is tot nogtoe nie veel uitgevind nie. Sommige persone beweer dat die van den Bergs in Nederland tot die adelstand behoort het en selfs keiserlike bloed in hulle are gehad het.

So byvoorbeeld was Willem IV, Graaf van den Berg (1537 – 1586) getroud met Maria van Nassau, die oudste suster van Prins Willem van Oranje van Nederland en hy het die hoogste rang onder die Gelderse edelliede bekleë. Na die inname van Den Briel verower hy met ‘n leër van vyf duisend man ‘n deel van Gelderland en Overijssel en probeer ook om Arnhem, Deventer en Utrecht te verower. Hy stuur selfs troepe na Friesland om ook daar die Spanjaarde te verdrywe.

Vier van sy seuns, naamlik Graaf Herman, Graaf Frederik, Graaf Oswald en graaf Hendrik van den Berg het belangrike posisies beklee as leëropperstes onder die Spaanse Kroon.

Die stamvader van die van den Bergs in Suid Afrika was Jakobus van Bergen (van den Berg) wat hier in die Kaap van Goeie Hoop as kadet in diens van die Nederlandse Oos Indiese Kompanje in 1672 gearriveer het. Hy is eers dertig jaar later met Jacomina Caarteniers van Holland getroud.

In ons land is die nageslag van Jacobus van den Berg baie groot.. Van hulle word genoem in geskiedenis boeke soos by Bloukrans is vermoor J van den Berg met sy vrou en vier kinders. Met Piet Retief is vermoor Berend, Pieter en Pieter (j.r.). Aanwesig by Bloedrivier was Hendrik van den Berg.

Bogaande inligting is deur ‘n neef van hom aan my vader gestuur in 1945. Die bron is aan my onbekend en die inligting mag dus nie feitelik korrek wees nie.

© Copyright van den Berg Family History 2018 | All Rights Reserved | Website Design and Search Engine Optimisation (SEO) by ZAWebs | Web Hosting by ZAWebHosts | Oorsprong van die Van den Berg Familie Resources