My Pa Vertel

Soos vertel deur my Pa, Samuel van den Berg. b1c9d5e5f4g2h4 Die foto is geneem op sy 80ste verjaarsdag in Durbanville.


My pa Samuel van den Berg (b1c9d5e5f4g2) het op die plaas Perdekop naby Ficksburg grootgeword. Sy pa Izak Jacobus was benewens 'n vooruitstrewende boer ook 'n transportryer na die diamantvelde by Kimberley. Samuel het dikwels sy pa (regs) op hierdie togte vergesel.

Later het Oupa die plaas "Vergenoeg", Winburg gekoop en daar geboer. Pa het op Winburg + 5 myl van die plaas skoolgegaan tot st. 5. Hy het elke dag te voet skool toe geloop. Die onderwyser was 'n meneer Fivaz. Eendag moes 'n meisie 'n pak kry. Pa het aangebied om in haar plek te buk waarop mnr. Fivaz hom toe deurgeloop het en daarna toe vir die meisie ook.

Oupa het toe die plaas Dankbaarsfontein, Winburg gekoop wat sover ek weet nog in die familie se besit is.

Ek is in Hillstraat, Kroonstad gebore waar Pa in die poskantoor gewerk het tot 1925 toe hy medies ongeskik as gevolg van 'n maagseer verklaar en op pensioen geplaas is. Hieronder is 'n sertifikaat wat sy kollegas vir hom gegee het met sy aftrede. Al die prentjies op die sertifikaat is met die hand geteken/geskilder. (Ongelukkig het hulle sy van as van der Berg geskryf.)

Sy pensioen waarby 'n lewenskostetoelae na die 2de Wêreldoorlog gevoeg is, was oorspronklik 11 pond per maand . Die het hy ontvang tot sy dood in 1963.

 Na Pa uit die poskantoor is het hy gaan boer, eers op die plaas Withuis, Virginia en toe 'n paar jaar op Uithoek, Wesselsbron. Bo is 'n foto van my op die plaas Withuis saam met twee speelmaats..

In 1933 het ons na die plaas Liversage, Winburg getrek. Ek het daar op die plaas Vaalkop + 6 myl daarvandaan skoolgegaan tot Std. 6. Ons het elke dag met 'n eenperdkar skool toe en terug gery.

Die perd Bokkie was later so gewoond aan die taak dat wanneer die skoolklok in die middae lui het hy vanself by die kar kom staan gereed om ingespan te word.

Een dag het 'n trop beeste in die pad gelê en het ons per ongeluk oor die een bees se kruis gery wat opgespring en die kar omgegooi het. Gelukkig is geen beserings in die "ongeluk" opgedoen nie.

Na Std 6 is ek na die Hoërskool Winburg waar ek in die koshuis gewoon het en in 1943 gematrikuleer het.

In 1944 het ek by die Staatsdiens aangesluit in Department van Lande, Pretoria. Hieronder is my betaalkoevertjie vir die eerste jaar wat ek gewerk het.

In 1946 is ek verplaas na die Rietrivier nedersetting, distrik Jacobsdal waar ek 'n jong onderwyseressie Aletta Sophia Visagie ontmoet het en in 1952 met haar getroud is.

Op daardie stadium het ek nie 'n kar gehad nie en het te perd gaan kuier op Jacobsdal wat 6 myl van die nedersetting was. Dit was een uur te perd.

 Na 'n lang gespaar het ek my eerste kar, 'n 1941 Plymouth Coupe vir 300 pond gekoop. Onder sit my kinders voor op die kar. 

Na ons troue is ek verplaas na die Levubu-nedersetting, distrik Soutpansberg.

Daar is ons dogter Petronella Johanna (Elna) en seun Samuel gebore te Elim Hospitaal, Louis Trichardt.  Onder is 'n rekening vir die bevalling, 11 pond 5 sjielings en 6 pennies! Die lewenskoste van daardie tyd word ook weerspiël deur die faktuur van Chomse se winkel op Levubu vir Mei maand 1953 se kruideniersware hier onder.

In 1957 is ek weer verplaas na Pretoria waar ons in 34ste Laan 783 gebly het.

Aletta het in 1961 weer begin skoolhou, eers afgelos by Wonderboom, Villieria, daarna vir 3 jaar by Rachel de Beer, Pretoria Noord en ook 3 jaar by Generaal Jacques Pienaar in Capital Park. Daarna het sy ook 'n ruk by Derdepoort Laerskool noord oos van Pretoria skool gehou.

In 1967 het ek die Diploma in Staatsadministrasie gekry en op 1 Februarie 1968 in die SWA Administrasie, Afdeling Natuurbewaring en Toerisme, Windhoek begin werk tot in Junie 1971.

Na kort periodes van ongeveer 18 maande elk in Afdelings Voorrade, Sekretariaat en Gesondheid het ek na 13 jaar in die Afdeling Onderwys as Assistant Direkteur afgetree op 30 April 1985. Ons het ons toe in Kleinmond gevestig waar my gunsteling tydverdryf rolbal is.

In Windhoek het Aletta by Orban en Emma Hoogenhout en toe by Suiderhof Laerskool skoolgehou totdat sy op 30 Junie 1984 afgetree het.

Nota deur sy seun : In 2003 het my ouers Sampie en Aletta na Legato Aftreeoord in Durbanville verhuis. Op 14 Junie 2006 is hy oorlede aan Chroniese Limfatiese Leukemie in die Louis Leipoldt Hospitaal in Bellville, Hy is veras en sy as geplaas in die muur van herinnering by die NG Kerk in Kleinmond.

© Copyright van den Berg Family History 2018 | All Rights Reserved | Website Design and Search Engine Optimisation (SEO) by ZAWebs | Web Hosting by ZAWebHosts | My Pa Vertel Resources